Your cart is currently empty!

Dit klop-klop so teen die vistenk en ek weet dis hy:
die vreemde een met die snaakste vin en grootste lyf wat ek nog gesien het… Geen uitpeul oë nie en dik velle om hom. Die is ‘n snaakse vis, as dit ‘n vis is?
Hierdie ding met sy snaakse vin, wat eers sag en dan harder klop, beteken net een ding –kos vir my honger maag. Maar ek kry nie elke dag kos nie. Ek wag wel elke dag vir die vin en die klop-klop. Elke drie dae kom die klop-klop en word die snaakse vin al groter tot hy ‘n groot skaduwee gooi teen die bak. Hy gooi vierkantige stukkies oranje, groen, rooi en geel in die bak en wag om te sien of ek boontoe swem. Die een flitsbeweging volg na die ander, soos die skaduwee groter en kleiner word.
Die gedierte sorg nie net vir my nie, maar kan partykeer ook maar net aan homself dink – al wat dan belangrik is, is wat hy wil hê. Dan klop hy nie net sag en harder teen die bak nie, maar dan maak hy ‘n skuurgeluid en daar kom helder verblindende lig in en daarna trek hy in ‘n streep met sy hum-hum-hum geraas en vinnige huhuhu weg… Wanneer hierdie bewegende, raserige monster buite is, volg die skuurgeluid weer en als word weer donker… Dit is tot die dier met sy snaakse vin weer terugkom na hy meeste van sy dag iewers anders spandeer het… Dan is dit van voor af die skuurgeluid en die hum-hum-huhuhu…
‘n Volgende dag gebeur iets fantasties: die ding wat my nooit geselskap hou nie, verwelkom ‘n nuwe inwoner in sy huis. Die inwoner het my lewe skielik kom verander: geen skerp lig nie en geen geraas nie en beste van alles was sy goeie geselskap. Sy het gekom met drie sagte klop-klop-kloppies en ek is mal oor haar – sy het ‘n dammetjie in die tuin gemaak en dit vir my in my nuwe tuiste omskep. En die beste van als is: sy het vir my vier ander maatjies ook gekry wat my kan geselskap hou…





